“Raaksiener”

Die visuele reis van emosies wanneer ek deur foto’s kyk bly ‘n verwondering.

Ons het onlangs verjaarsdag geskenk gesoek. Wat gee ek vir my ma op haar 70ste verjaardag. Ek hoor myself die syfer in my gedagtes herhaal – sewentig, kan dit waar wees. Waarom het die tyd so saggies ongemerk verby geglip. Hoe kon ek dit gemis het. Onwillekeurig begin ek terugdink en probeer ‘n “pause” knoppie druk wanneer ek iets onthou. Ek besef ook dat die herinneringe soos kiekies in my gedagtes verskyn. Skielik besef ek dat ‘n fotoboek met herinneringe die beste geskenk sal wees.

Min het ek geweet dat dit egter vir my die beste geskenk in gewaarwording en begrip sou raak. Terwyl ek deur die foto’s kyk, wissel my gedagtes van hartseer tot lag. Die volgende bly herhaal – “Wens ek was nog daar!”; “Wens ek kan daai weer beleef!”; “Dit was so ‘n lekker tyd!”; “Ek mis dié of daai persoon se saamwees”. Ek besef toe ook dat ons so besig was om toekoms planne te maak dat ons dalk nooit die ware lekker en seëning van daardie tye raakgesien het nie. Soms is ons so vasgeval in die nou en die nou se probleme of dan potensiële probleme en wens mens soms die tyd om, maar as mens terugkyk daarna verlang mens juis na daardie tyd. Ek gryp na ‘n pen en skryf die volgende neer – ons is nou (vandag) so oud soos wat ons al ooit was, maar oor ‘n paar jaar sal ons met heimwee terugkyk na hoe jonk ons was vandag. Ons sal terugkyk na vandag en verlang na die tyd wat ons saam kon kuier, saam kon lag, saam kon ervaar, saam kon leef!Met my gedagtes gevul met die emosies en herinneringe vanuit die foto’s in my hande, voel ek my mond die volgende woorde prewel; “ons moet elke oomblik elke sekonde styf vashou en alles daaruit druk en geniet.“

Ek rangskik toe die foto’s per jaar en besef ook skielik dat daar sommer ‘n paar jare is waarvoor ek nie ‘n foto het nie. Kon ‘n hele jaar verbygaan sonder ‘n foto? Daar is sekerlik baie leesstof met die tema “verbeter jouself”, maar die volgende gedagtes wil ek uitskree… leef voluit, lag meer, neem foto’s – sommer baie en gee mekaar so af en toe ‘n druk!

Die geskenk was ‘n reuse sukses en almal het rondom die boek gaan sit. Ek hou hulle dop terwyl hulle deur die foto’s kyk. Die emosies – lag, stilraak, huil, uitbundig lag, heimwee, deernis. Daardie paar minute van foto’s kyk was ‘n positiewe terapeutiese sessie. ‘n Kragtige bron wat in elke huis beskikbaar is. Stof af daardie albums en geniet die reis wat jou hart spontaan gaan deurmaak. Dis soos ‘n warm oggend sonstraal op jou gesig wanneer jy op ‘n koue wintersoggend uitstap. Jy voel lekker, sommer warm van binne.

Ek kyk met nuwe oë na elke foto en beslis na elke foto geleentheid. Ek neem foto’s en nogmaals foto’s. Ek sien die wonderlike bederf van die Here in die natuur en in mense wat voor my lens tyd vertoef. Ek besef ook die wonderlike voorreg om ‘n stukkie tyd, ‘n stukkie ruimte en ‘n stukkie emosie saam met die mense wat voor my lens verskyn te deel. Die mooi van menswees. Die spanning voor die kamera omrede ons almal ook maar net ons beste wil lyk. Die ma wat haar kindjie omkoop met ‘n stukkie lekkergoed vir net een glimlag na die kamera, maar dis tog die traan-foto wat die emosie van koestering prikkel. Vir twee verliefdes is ‘n vashou en soen gedagte spontaan en word dit met oorgawe gedoen, my lens sien die verliefdheid. ‘n Getroude paartjie kom ongemaklik voor tydens dieselfde toneel, nogal hartseer! Die beste skrywers oor die eeue heen poog om die liefde te beskryf en omskryf. Liedjieskrywers poog gereeld om deur hul lirieke iets van liefde oor te dra. Hier voor die kamera se lens sien mens hoe wonderlik die verskillende fasette van liefde vasgevang kan word. ‘n Ma kyk na haar baba, jong verliefdes raak verlore in mekaar se oë ,‘n glimlag hier en ‘n aanraking daar. Subtiel, maar tog so duidelik!

Ek raak filosofies oor kiekies en ek geniet elke oomblik daarvan!

Dankie aan ons Skepper om deur middel van tegnologie ons te leer om raak te sien, maar nog meer om te onthou, om te voel, te ervaar alles binne sekondes nadat jy ‘n foto sien. Die foto’s is wonderlik, maar tog net ‘n klein, baie klein vasvang van God se skeppingskrag. Elke gesig, elke glimlag, elke emosie vasgevang deur ‘n lens is alles ‘n gawe en skepping van God. Ek neem ‘n bruidspaar af terwyl hulle op die strand stap. Die volgende oomblik skilder God vir ons die mooiste sonsondergang. Die stofkorreltjies in die lig vang die sonstrale en weerspieel die mooiste rooi en oranje gloed. Die seemeeu vlieg ‘n draai met sy vlerke oop soos twee arms wat opgetel word en vraend wys “het jy dié gesien”. Ek besef ek moet drie goed doen, tel die kamera op, druk die knoppie en sê dankie vir die voorreg om dit te ervaar.

Ek sien nou dinge raak. Voorheen het ek dit misgekyk. Die skaam glimlag, die wonderlike sonstrale deur die wolke, die skadubeeld van ‘n boom teen ‘n sonsondergang.

Fotograaf, nee “raaksiener” klink vir my meer reg…

Add comment


Security code
Refresh